Soos die slow motion
scenes in die movies, so het dit afgespeel.
`n Sondag agtermiddag reis oppad terug Kaap toe. Ons was die
naweek in Robertson vir die Wacky Wine fees. Ons geselskap was `n terugblik op
al die naweek se avonture. Soos enige reis op `n lang pad, het die geselskap
opgedroog, elkeen met sy eie gedagtes.
Dit is toe ons langs die pad die klein lyfie sien wat
bewegingloos langs die pad lĂȘ, die verslae man wat bo hom staan- hy kyk links
en dan regs en vryf sy vingers desperaat deur sy hare. Het hy die seuntjie
gestamp?
Ons ry verby en sien 100 meter verder `n ander seuntjie wat hardloop
in dieselfde rigting wat ons ry. Hy kom tot stil stand, draai om, strek sy arm
reguit en die wysvingertjie skiet uit. Hy wys terug na die tragiese toneel,
“Daar…daar het dit gebeur. Gaan soontoe, en gaan vind hardseer daar…”. Binne in
die voertuig is sy mond en skreeuende gille stom en klankloos, maar die
paniekbevange gesig vertel…
Ons ry 50 meter verder en sien vir wie hy skreeu. `n Vrou. Trane.
Klanklose gille. Swaaiende arms en bene wat haas na tragedie, hardseer, rou.
Ma?
Ons het verby haar gery. En net so, asof jy wakker skrik uit
`n droom, beweeg tyd normaalweg aan. Die
slowmotion scene is verby. Dit was soos om vir baie lank onder water te
swem, en dan op te kom vir asem. Tragedie het sagies aan ons gestreel, maar
hulle beet gekry. Dit het vir ons gefluister, “nie nou nie, later”. `n Herhinnering.
Dit is soos geluk, soos haat, soos liefde.
Soos die slow motion
scenes in die movies, so het dit afgespeel.
No comments:
Post a Comment